Welkom
Baie welkom by die webwerf van La Rochelle Gemeente in Bellville. Met hierdie geloofsgemeenskap loop die Here van al van 1974 af ‘n pad en vertrou ons Hom ten volle vir ons pad vorentoe. As gemeente stel ons onsself ten doel om tot verheerliking van God te leef deur te groei in Christus, Sy liefde daadwerklik uit te leef, en om die Goeie Nuus te deel.
Visie
Beleef Liefde
Groei in Christus
Deel die Goeie Nuus
Missie
Ons verheerlik God deur in ‘n gebroke samelewing ‘n geestelike tuiste te skep waarin ons mekaar in liefde versorg en toerus sodat ons kan uitreik na die wêreld in nood! In kort beteken dit: Ons verheerlik God deur Aanbidding, Versorging, Toerusting & Uitreike.
Kernwaardes
Ons wil die gemeente se visie en missie uitleef aan die hand van die volgende waardes
Openheid
Vertroue
Leerbaarheid
Deernis
Diensbaarheid
Bybelse Uitgangspunte
Die Bybelse Uitgangspunte waarvolgens ons as gemeente diensbaar in God se koninkryk is, is die volgende:
Missionale Gestuurdheid
Die identiteit van die gemeente is geleë in die woorde van Jesus (Johannes 17:18; 20:21): “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook.” Ons is geroep en gestuur deur Jesus na die wêreld in nood met God se liefde en toegerus met die Heilige Gees. In alles wat ons is en doen, leef ons met hierdie wete: Ons is God se gestuurdes!
Amp van die gelowige
Die Heilige Gees is uitgestort oor alle mense (Handelinge 2:17-18). Alle kinders van die Here het die Gees ontvang en die gelowiges is geseën met al die gawes van die Gees wat daar in die hemel is (Efesiërs 1:3). Elke gelowige het vrye toegang tot God en is toegerus met die Gees en met gawes wat die Gees gee vir dienswerk in die koninkryk en vir die opbou van die gemeente (1 Korintiërs 12:4-7; Efesiërs 4:4-6)
Leierskap
Die Here gee aan sy gemeente mense met die gawes van leierskap om geestelike leiding aan die gemeente te gee en om die gemeente te inspireer, toe te rus en te mobiliseer vir dienswerk in die koninkryk. (Romeine 12:8; Efesiërs 4:12)
Gebed
Ons is diep bewus dat ons bestaan en voortbestaan as gemeente van God afhanklik is (Efesiërs 3:14-15). Daarom maak ons erns met gebed en begeer dat alles in die gemeente geskied met ‘n bewustheid van God se lewende teenwoordigheid en gesprek met God, met die verwagting dat iets besonders kan gebeur. (Efesiërs 3:20)
Geloofsgroei
Ons is in ‘n liefdesverhouding met God en die Gees begelei ons op ‘n geestelike reis waarin ons al hoe meer vernuwe word sodat die gesindheid en lewe van Christus in ons sigbaar word. Daarom streef ons na geloofgroei en verdieping sodat God in alles verheerlik kan word. (Kolossense 2:2-4; 2 Petrus 1:5-7,10)
Gemeenskap met mekaar
Ons is deur die bloed van Christus aan mekaar verbind en is saam die liggaam van Christus. Ons is geroep om mekaar te dien en te versorg, om saam te groei en saam uit te reik! Ons doen dit met God se liefde en met die gawes wat die Gees ons gee. Daarom soek ons geleenthede op om die saamwees uit te leef omdat ons ontdek het: Saam is ons beter! (Kolossense 2:2; Galasiërs 3:26+28)
Familie
Ons is God se huisgesin en geloofsfamilie van mekaar. Ons behoort aan God, maar ook aan mekaar (Efesiërs 2:19; Markus 3:35). As geloofsfamilie wil ons die rykdom van familie-wees ontgin en uitleef ook in ons natuurlike families. Ons is ‘n uitgebreide familie wat ‘n geestelike tuiste vir almal wil wees waar mense gasvryheid kan beleef en ontdek wat dit beteken om deel van ‘n familie te wees.
Relevansie van die evangelie
Jesus het sy ereposisie by die Vader verlaat en onder ons kom woon. Hy het God se liefde prakties binne die leefwêreld van die mense van sy tyd uitgeleef in woord en daad. Ons roeping en uitdaging is om die gemeente so in te rig en die Goeie Nuus so te deel dat dit relevant en prakties deur mense beleef word. (Johannes 1:14; Filippense 2:3-7)
Eenheid van diversiteit
Hoewel ons as gemeente vanuit ons eenheid in Christus funksioneer, sien ons die diversiteit van mense in die gemeente met unieke persoonlikhede en verskillende gawes en spiritualiteite as ‘n uitbeelding van die ryke verskeidenheid van God se genade. Daarom wil ons as liggaam van Christus ons verskeidenheid en diversiteit omhels en ruimte maak vir die verskeidenheid van gawes, bedieninge en bedieningsbehoeftes binne die uitleef van ons gesamentlike visie. (Romeine 12:4-8; 1 Korintiërs 12)
Rentmeesterskap
Die aarde en alles daarop behoort aan die Here. Hy het ons gemaak en vrygekoop en alles wat ons besit, behoort aan Hom. God sorg en voorsien vir ons in alle omstandighede. Ons is aangestel as rentmeesters om God se eiendom tot sy eer te bestuur. Daarom wil ons uit dankbaarheid en gehoorsaamheid vir God eer met ons offergawes en alles wat aan ons toevertrou is. (Psalms 24:1; Spreuke 3:9-10; 2 Kor 9:6-8)
Personeel
Geskiedenis van die gemeente
Betekenis van Embleem:
Die skip in die binneste ring is afkomstig van die stadswapen van La Rochelle, Frankryk, waar ons gemeente sy naam vandaan kry. Die hawestad La Rochelle was eens ‘n Hugenote-vesting. Die skip kan ook ‘n simbool vir die kerk van Christus wees: die kerk onderweg, wat nog nie sy bestemming bereik het nie. Die kruis op die skip se hoofseil het die vorm van die Maltese kruis. Saam met die duif, simbool van die Heilige Gees, is dit die hoofmotiewe van die Hugenote-kruis.
Die kombinasie van die kruis en duif dui verder op die innige verbondenheid van die werk van die Heilige Gees met die werk van Christus. Die Hugenote-kruis is ‘n egte Protestantse simbool, ‘n teken van die lydende en strydende kerk van Jesus Christus. In die buitenste ring is daar woorde, afkomstig van 1 Kor 1:30, wat volgens Johannes Calvyn, die gereformeerde vader, uitdrukking gee aan die volledige werk van Christus. In hierdie vers word die woorde “wysheid van God” verder omskryf as “vryspraak, heiliging en verlossing”.
Die embleem is in ‘n seëlvorm met ‘n teks in die buitenste ring, wat tipies van die gereformeerde kerkembleme is, met ander woorde, dit is nie ‘n wapen, of skild, soos op stadswapens ens nie. In die ontwerp is ons geadviseer deur die bekende heraldikus, dr Cor Pama, en ook deur die SA Raad vir Heraldiek, wat die embleem uiteindelik vir registrasie goedgekeur het. In 1988, die Hugenotejaar, het ons Kerkraad dit ook aanvaar.